Local newsNews

Berg-op met ‘n kakebeenwa verg mannemoed

Komatipoort se Voortrekkerkommando het onlangs aan 'n herdenking van die Groot Trek deelgeneem en vertel dat dit 'n groot uitdaging was.

KOMATIPOORT – Lede van die plaaslike Voortrekkerkommando het tydens die Vrouedag-langnaweek deelgeneem aan die grootste trek oor die Drakensberge sedert die Groot Trek.

Pieter Retief het op 5 Oktober 1837 oor die Drakensberge migreer met vier waens op pad na die Zoeloe-koning Dingaan. Sy trek het hom op 14 Oktober gevolg nadat hulle gehoor het dat Dingaan aan hulle grond belowe het.

‘n Groep van 345 moderne Voortrekkers het vanoor die land gekom om in Retief se spore te loop.

Hulle het twee monumente gebou: een aan die bo-punt van die berg naby die Kaalvoetvrou-monument en een by ATKV Drakensville, waar daar ook ‘n boomlaning van 45 bome aangeplant is.

Die organiseerder, Josua du Plessis vertel dat die tog 13,4km ver was, maar die steiltes waarteen die jong Voortrekkers die waens moes op- en afsleep die werklike uitdaging was.

“Die trek het by Retiefpas, 1 762m bo seespieël begin en het vinnig geval na 1 233m bo seespieël voor dit op die savanna aangekom het. Die meerderheid van die remhoogtes was in die eerste drie kilometer van die roete.”

Die groep kon vier kakebeenwaens in die hande kry, wat van heinde en verre gekom het: Die Frik Swanevelder-wa van Kempton Park, Tom Beukes-wa van Ficksburg, Pieter Breytenbach-wa van Ottosdal en die Dawid Grobbelaar-wa van Tzaneen. Die waens is gerestoureer vir die geskiedkundige tog.

Een van die waardes wat jeuglede van die Voortrekkers leer is dat diensbare leiers nie vir hulself leef nie en hulle het dit op die tog uitgeleef.

Saam met die waens het die kinders ses hippo-rollers (watertenks van 90 liter elk) met hul watervoorraad berg-af gerol. Die tenks is deur die meisies en vroue aan plaaslike Zoeloe-vroue oorhandig as ‘n gebaar van vriendskap en om hul lewe in landelike omstandighede effens te vergemaklik. Die Zoeloe-vroue was getooi in hul kerkklere en het die Voortrekkers met ‘n pragtige seënlied verwelkom.

Tussen die Voortrekkervroue was Marlize Marais, ‘n kommandoleier van Kruinsigkommando in Kempton Park, wat die tog kaalvoet onderneem het.

Sy het dit ter viering van Vrouedag en in herinnering van voortrekker Susanna Smit gedoen. Smit is bekend as die vrou wat aan ‘n Engelse offisier gesê het dat die Voortrekkers eerder kaalvoet terug oor die Drakensberge sal stap as om onder Engelse gesag te staan.

“Voortrekkerspore van ouds word nie net bevestig nie, maar nuwe spore word getrap. Daar word nuwe monumente gebou en terselfdertyd word uitgereik na die gemeenskappe om ons. Op dié wyse leer ons jeuglede nie net geskiedenis nie, maar skryf hulle ook geskiedenis,” vertel dr. Danie Langner, hoofleier van die Voortrekkers.

Die tog gaan ook binnekort op Kwêla, ‘n leefstylprogram op kykNET, uitgesaai word, dus kan lesers gerus kyk of hulle van die plaaslike Voortrekkers raaksien.

 
Back to top button